Huis Horison se Vlamvatters is meer as net vuur-aanstekers, dit is ’n inisiatief met ’n doel. Dit is ’n gewilde item by die kermis en as ’n geskenk, veral nou dat dit in ’n mooi en “sjiek” nuwe verpakking beskikbaar is. Daar is Stellenbossers en vriende van die sentrum wat nie meer hul kaggel of braaivleisvuur met enigiets anders as hierdie vlamvatters wil stook nie. Wanneer die sentrum ’n geskenkpakkie uitdeel, wil die ontvangers dikwels vooraf weet of daar vlamvatters in die sak is.
Die vraag is, wat is ’n vlamvatter en hoe het dit alles begin?
Antonie Vosloo, ’n inwoner van Huis Horison, het in 1974 in ’n ernstige motorongeluk breinbeserings opgedoen. Sy ouers moes baie kreatief raak om hul seun gedurende en na sy hersteltyd te stimuleer en sinvol besig te hou. ’n Vriendin van die familie het voorgestel dat hy koerantpapier vou, wat ook sy spierbeheer sou verbeter. Antonie en sy pa het aan die werk gespring en sommer gou berge gevoude koerantpapier gehad.
En so het die eerste vlamvatters die lig gesien – Antonie se ma, Christa, het kerswas gesmelt en die gevoude koerantpapier daarin gedoop. Die vlamvatters is toe mooi verpak in sakkies wat ook van koerantpapier gemaak is. Die familie se vriendekring het almal help sakkies stik. In 2012, na die Vosloo-gesin vir heelparty jare vlamvatters gemaak en vir Huis Horison verkoop het, het die sentrum die projek oorgeneem, en dit het ’n blywende produk uit ons werkkamers geword.
Die maak van die vlamvatters is inderdaad ’n spanpoging. Ons Club Phoenix groep neem die voortou met die vou van die vlamvatters, veral Ansie, wat baie lief is vir die skeppende werk. Personeel neem dan die leisels om die doopwerk te doen wanneer ou kerse en kerswas versigtig gesmelt word en vlamvatters daarin gedoop word. Daarna word die vlamvatters verpak en etikette opgesit voordat dit op Village Thyme se rakke verskyn.
En so het ’n aktiwiteit en ’n produk wat ontstaan het om een persoon besig te hou en as terapie te dien, ’n spanaktiwiteit geword en nuwe betekenis aan ’n hele groep mense se dagroetine gegee. Nog beter, daar word herwinbare materiaal sinvol gebruik om iets nuut en nuttig te skep - wat weereens spreek na Huis Horison se omgewingsvriendelike benadering – en dis boonop ’n bron van inkomste vir die sentrum.
Ons is dankbaar vir enige donasies van kerswas en ou kerse van individue en restaurante.
Vlamvatters kan gekoop word by Village Thyme of op ons webwerf.

