Om die vereniging op die been te bring, is mnr Mauritz de Kock, medestigter van Santa, en mej Rykie van Reenen van Die Burger ook betrek. Van die eerste take was om die stigting van 'n vereniging te bespreek, 'n naam uit te dink, doelstellings te formuleer en 'n konsepgrondwet op te stel. Mev Cinnie de Kock en dr Bethel Muller het gewillig hand bygesit.
Die bestuur sou uit agt lede bestaan en hulle sou ondersteun word deur verteenwoordigers uit die Engelse, Afrikaanse en Joodse diensverenigings. Mev Bernice du Plessis is as die beskermvrou aangewys.
Die vereniging is as 'n welsynsvereniging geregistreer. Dit was egter moeilik om finansiële ondersteuning van owerheidsinstansies soos Geestesgesondheid en Volksgesondheid te verkry. Dit het vinnig duidelik geword dat hulle self grond vir die werk- en dienssentrum sou moes bekom. Gelukkig was die munisipaliteit van Stellenbosch bereid om te help. Hier het mev Eksteen, Manie Strydom en W Lubbe veral 'n groot rol gespeel. Grond is in die Voëljiesdorp-omgewing (vandag Onder-papegaaiberg) teen 'n nominale bedrag van die munisipaliteit gekoop.
Twee lede van die vereniging se dagbestuur is toe op 'n dag met hul doelstellings na die Departement Volkswelsyn om magtiging vir die voortsetting van die projek te verkry. Die staat het egter in daardie stadium nie 'n kategorie vir sulke projekte gehad nie. Gelukkig tree mej Ansie Gronum op 'n kritieke oomblik tot die gesprek toe en verras almal met haar ondernemingsgees – en in daardie oomblik is Huis Horison gebore.
Daar is met mening aan die werk gespring. Die argitek George Osler is genader om die werksentrum te ontwerp en die een fondsinsameling na die ander is van stapel gestuur. Mev T Perel van die Joodse Vrouevereniging het in hierdie stadium ook 'n groot bydrae gelewer.
Die eerste brosjure oor die projek het verskyn ná die harde werk van mej Mimmie Verster, mnr de Villiers, mev Eksteen, dr Bethel Muller en dr R Smit. Dit is taalkundig versorg deur mev JC de Wet en dr Pat McMagh. Pro Eclesia-pers het die brosjure gedruk en die Rembrandt-groep het dit geborg. Mej M van Heerden en mev ds Human het in hierdie woelige tyd onontbeerlike werk as sekretaresses verrig.
Die gebou het uiteindelik begin vorm aanneem. Gemeenskapsbou het 80% van die totale koste gedra. 'n Verband is uitgeneem en later het hulp ook van die staat se kant gekom. Gewaardeerde hulp is deurgaans deur die munisipaliteit van Stellenbosch gelewer. Die bouer, mnr J le Roux van Franschhoek, en die boukomitee het uitsonderlike diens gelewer. Die boukomitee het bestaan uit mev Anna Eksteen, mnr Lubbe, dr Bethel Muller, mev Ada Brodie en mej Mimmie Verster.
'n Dam was nodig om die landbou- en tuingrond rondom die werksentrum te besproei. 'n Anonieme weldoener het hierdie behoefte raakgesien en geld daarvoor geskenk.
Buitestaanders het gewonder waar die water vir die dam vandaan sou kom, want dit was net 'n entjie van die aangrensende plaas van die Mombergs. Hulle het egter nie die vloedwater van die nabygeleë woonbuurt in aanmerking geneem nie. Die dam is voltooi met die onbaatsugtige hulp van mnr Martin Hunting, en Huis Horison se dam het nog nooit 'n watertekort gehad nie.