By ons sentrum klop die hart van 11 verskillende werkareas. Elke area speel ’n belangrike rol om ons inwoners en dagwerkers ’n sinvolle bestaan te gee. Die produkte en dienste wat hier ontwikkel word, help nie net om inkomste te genereer nie, maar bespaar ook kostes omdat ons baie werk self kan doen.
Vir ons is dit belangrik om ’n finansieel volhoubare sentrum te bestuur. Dit beteken ons moet minder afhanklik wees van skenkings en meer fokus op die vermoë om ons eie inkomste te skep.
Een van die areas wat steeds baie potensiaal het, is ons houtwerkafdeling. Hier herstel ons meubels– ’n diens waarvoor daar groot aanvraag is – en maak ook nuwe meubels en houtspeelgoed. In 2025 het ons hierdie afdeling verder uitgebrei, maar dit het ongelukkig die herwinningsarea se ruimte heeltemal beperk.
Met die opknapping van die boekwinkel, het dit beteken dat ons groot bus, en andervoertuie nou buite moet parkeer. Die weer en elemente veroorsaak slytasie, en ons weet dat hierdie waardevolle bates langer sou hou as hulle onderdak gestoor kon word.
Daarom het ons hard gewerk om ons droom van ’n nuwe buitegebou op die perseel te realiseer. Só ’n gebou sal nie net beskerming bied nie, maar ook nuwe geleenthede skep:
- Meer spasie vir houtwerk en herwinning, wat beteken dat ons meer geleenthede kan aanbied vir nuwe dagwerkers in ons dagprogram.
- ’n Kans om uitruilprogramme met ander instellings soos Huis Horison te vergroot.
- Ons bates beter te beskerm naamlik voertuie, sleepwaens en agri-toerusting.
- Danksy meer spasie en beter vloei, sal dit produktiwiteit help bevorder in beide houtwerk en algemene herwinnng.
- Hierdie buitegebou kan ons nou ook gebruik tydens Kermis en ander fondsinsamlings, in plaas daarvan om duur tente te huur, en sodoende groot kostes bespaar.
Met hierdie uitbreiding kan ons die sentrum sterker, meer volhoubaar en meer betekenisvol maak vir almal wat hier deel is, en ons wil graag ons donateur bedank wat die projek moontlik gemaak het.
Hou 'n ogie op ons sosiale media om die vordering oor die volgende paar maande te volg!

