Skip to main content

Huis Horison is geleë op 14.47 Ha gronde op die buitewyke van ‘n residensiële buurt, aangrensend aan die omliggende plase. Ons langtermyn visie is om die eienskappe van die terrein ten volle te ontwikkel, benut, en bewaar tot voordeel van die inwoners en dagwerkers by Huis Horison asook die breër gemeenskap. Ons wil graag die donateurs wat hierdie projek moontlik gemaak het, opreg bedank.

Die ontsettende hoë kostes van ‘n heining maak dit onbekostigbaar vir ‘n nie-winsgewende instansie soos Huis Horison, daarom wil ons graag ons spesiale dank uitspreek aan die Jannie Mouton Stigting, Vriende van Huis Horison Trust en die Het Jan Marais Nationale Fonds vir hulle ondersteuning met die projek.

Die heiningprojek het in 2022 afgeskop, wat beteken dat die grond, insluitend die olyfboord, suurlemoenboord en die dam omhein sal word. Sodra die omheining voltooi is, kan ons die vleiland skoonmaak, rehabiliteer en deel maak van ons programme. Die uithaal van uitheemse plantegroei en hervestiging van geskikte inheemse plante en ‘n hout-stappad (“boardwalk”) met ‘n voëluitkykpunt word as deel van ‘n staproete beplan, om sodoende die omgewing vir ons inwoners en dagwerkers toeganklik te maak.

Die stappad se ontwerp wentel om persone met spesiale behoeftes en sal ‘n rolstoel-toeganklike roete sowel as ‘n tas- en reukroete vir mense met verswakte sig insluit. Die volle roete op die hele eiendom kan tot 5km lank wees, en daarom sal hulle dit kan gebruik vir oefening, en om die buitelewe te ervaar. Die unieke stappad sal ook toeganklik wees vir ander gestremdes en bejaardes van die omliggende gemeenskap.

Die doel is om ‘n veilige omgewing te skep en die volle potensiaal daarvan te ontsluit:

  • Sodat ons mense met ‘n primêre intellektuele gestremdheid holisties kan versorg en vir hulle ‘n geleentheid tot ‘n beter, sinvolle lewe kan bied.
    Om ‘n positiewe bydrae tot die herstel van die sensitiewe vleiland en beskerming van die inheemse plantegroei te lewer.
  • Sodat ons inwoners, deur ‘n eko-terapie program wat ‘n genesende en verwelkomende plek vir almal skep, die omgewing ten volle kan benut en ‘n gesonde lewensstyl kan leef,
  • Om die terrein en infrastruktuur na ‘n wyer verskeidenheid van gestremdes en bejaardes van die gemeenskap uit te brei.
afAfrikaans