Marguerite de Villiers dra haar ouderdom goed. Sy is trots op die medalje wat sy onlangs by die Horison Veldwedloop ontvang het, en is doelgerig om volgende jaar die 5-km roete aan te pak. Inteendeel, sy gryp elke geleentheid aan om te gaan stap, en is opmerklik aktief en onafhanklik vir ‘n 62-jarige.
Marguerite het in 1980 op die ouderdom van 22 by Huis Horison aangesluit, en pak die lewe by die horings aan. Sy onthou nog hoe sy in haar 30’s deel was van Huis Horison se atletiekspan in die 400m en 800m wedrenne, en selfs ‘n silwer medalje verwerf het.
Sy het oor die jare bydrae gelewer in verskeie werkareas insluitend die tuinbouspan, wassery, kombuis en ook handwerk. Deesdae, by Club Phoenix, hou sy haarself steeds besig en doen graag hekelwerk in haar geliefkoosde pastel kleure. Sy is baie musikaal en sing en speel graag kitaar, veral by verjaarsdae en talentvertonings.
Sy het goeie herinneringe aan die spesiale mense in haar lewe: haar familie, haar versorgers en haar vriende deur die jare. En natuurlik haar geliefde ringnek papegaai Smiley, wat al 11 jaar oud is.
Hierdie jaar was egter ‘n uitdagende jaar vir haar, want sy het haar vriende Leslie, Corrie en Huibrie verloor. Boonop moes haar ma, wat nog altyd ‘n groot rol in haar lewe gespeel het, in versorging gaan en Marguerite mis haar inniglik.
Sy is een van vele inwoners wat lief is vir Huis Horison waar hul kan werk, sosialiseer en ‘n verrykende lewe kan leef, kan veilig voel en liefde ervaar in ‘n plek wat oplaas huis genoem kan word.
As ‘n nie-winsgewende maatskappy steun ons op die hulp en bydrae van die gemeenskap en benodig u ondersteuning om hierdie diens voort te sit. Daar is verskeie maniere waarop u betrokke kan raak:
- Maak u hart oop en borg een van ons 20 sorgbehoewende inwoners maandeliks
- Maak ‘n donasie of ‘n maandelikse bydrae
- Benoem ons in u testament
- Maak Huis Horison ‘n begunstigde op jou MySchool kaart (voordat die Kersfees inkopies begin!)
- Vertel ‘n vriend of kollega van Huis Horison
- Skenk produkte of skenk u tyd of professionele dienste
Besoek gerus ons webwerf www.huishorison.org.za of kontak ons vir meer inligting.
Die Horison gemeenskap bedank u graag vir u belangstelling in Marguerite en in al ons inwoners en dagwerkers. Ons wens u ‘n gesonde en ‘n geseënde Kersfees toe saam met u geliefdes.
Kliek hier om die November 2020 Nuusbrief te lees.
Vriendelike groete,
Elza C Bresler
Uitvoerende Direkteur