Beste Vriende en Familie
Kobus “Doppies” Geldenhuys is lief vir die son, en jy sien hom gewoonlik in die heerlike warm kolletjie langs die noordelike muur van die Jasmyn wooneenheid sit met ‘n stoel op sy skoot en riempies vleg. Kobus woon al meer as 40 jaar gelukkig by Huis Horison en al is hy 60, wil hy nie graag ophou werk nie, want hy is lief vir houtwerk en meubel restourasie.
Inteendeel, mens sou nie dink hy is al naby aftrede nie – hy is jonk van gees, en sy oë vol lewenslus, veral as ‘n mens begin rugby gesels. Kobus is ‘n rugby man, dit is sy groot passie. As ‘n kind het hy gedroom om vir die Springbokke te speel en het ‘n groot bewondering vir die rugby legendes soos Morné du Plessis en Eben Etzebeth.
Hy het tog ‘n bietjie rugby gespeel as ‘n jong man maar moes op die ouderdom van 24 weens beserings in sy bene ophou. Hy was daarna steeds betrokke as ‘n helper en het die spanne ondersteun en graag water aangedra by plaaslike wedstryde. Deesdae geniet hy dit om ‘n toeskouer te wees en maak altyd seker hy het ‘n kaartjie wanneer daar ‘n wedstryd op Coetzenburg gespeel word.
Almal hier ken hom as “Doppies”, en hy lag lekker uit sy maag as hy vertel hoe hy sy bynaam verwerf het. As ‘n hulpvaardige mens, het hy as ‘n jong man spesiaal moeite gedoen om bierdoppies vir ‘n familievriend se projek in te samel. So doen hy toe ‘n insamelingspoging by Van der Stel se rugbyklub en slaag daarin om oor ‘n tydperk met sakke en sakke vol doppies by Huis Horison aan te kom. Kort voor lank het sy vriende hom “Doppies” gedoop – ‘n naam wat tot vandag toe vasgesteek het.
Kobus het een suster wat woon in Somerset Wes – dit is sy enigste familie. Huis Horison is sy tuiste waar hy woon en werk. Hy is lief vir die buitelug en draf nog steeds gereeld. Met sy vriende is hy soms ‘n regte terggees, en almal geniet sy uitstekende sin vir humor. Omdat hy al so lank hier is, het hy al soveel groei saam met die sentrum meegemaak en is positief oor die nuwe uitbreiding. Hy sien die mooi in die lewe raak, en is ‘n warm en opregte mens.
Kobus is maar een van die intellektueel gestremde inwoners wat in die geborge gemeenskap van Huis Horison, die geleentheid kry om ‘n menswaardige lewe te lei. Hy is ook een van die groep wat tydens die wêreldwye ‘Covid-19’ pandemie, sonder ander heenkome, geduldig in die veilige sorg van Huis Horison bly en hoop vir die lewe om na normaal terug te keer.
Te midde van die uiters ongwone omstandighede, duur Huis Horison se werk dus voort, en as ‘n nie-winsgewende maatskappy steun ons op die hulp en bydrae van die gemeenskap. Ons kan nie tans besoekers, vrywilligers of goedere ontvang nie, maar ons verwelkom enige finansiële skenkings. Daar is verskillende maniere wat u kan help, en met hedendaagse tegnologie kan u met een kliek ‘n eenmalige, of ‘n gereelde bydrae maak.
U kan ook:
- Huis Horison ‘n begunstigde op jou MySchool kaart maak
- ‘n Vriend of kollega van Huis Horison vertel
- Huis Horison op Facebook volg
Die Horison gemeenskap wil jou graag bedank vir jou belangstelling en kosbare betrokkenheid. Ons wens jou en jou geliefdes vrede en gesondheid toe.
Kliek hier om die April 2020 Nuusbrief te lees.
Vriendelike groete,
Elza C Bresler
Uitvoerende Direkteur