Die “Village Vrydae” is dinamies en ontwikkel aanhoudend, met die doel om ons inwoners se lewens te verryk in ‘n geborge omgewing, en nog ‘n dimensie te skep waar hulle in ‘n genormaliseerde omgewing kan sosialiseer en menswees geniet.
Inwoners, veral hulle wat nie gereeld huis toe gaan nie, het min geleentheid tot pret en ontspanning en om van die daaglikse ritme van werk, eet, slaap weg te breek – dit het weer ‘n effek op hul sosiale en geestesgesondheid wat ‘n negatiewe impak het op werkareas bedags, en wooneenhede saans en naweke. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ons “Village Vrydae”, wat op 28 Januarie van stapel gestuur is.
Sover terug as 2004, is daar ‘n Leerplan ontwikkel vir die ontwikkeling van sosiale Lewensvaardighede by ons inwoners en dagwerkers. Dit is opgestel in samewerking met personeel en ouers.
Ons “Village Vrydae” gee vir al ons inwoners en dagwerkers die geleentheid om te ontspan en aktiwiteite by te woon onder toesig en sonder om die werkareas te beïnvloed. Hulle word daardeur bemagtig om hul eie keuses uit te oefen. Hulle kan kies uit ‘n verskeidenheid aktiwiteite, bv. ‘n sport aktiwiteit, hul naels te laat doen, met vriende te kuier by die alkoholvrye pub, of fliek te kyk op die groot skerm met popcorn. Dit help hulle ook met beplanning en verantwoordelikheid, soos om vooraf te spaar vir die aktiwiteit van hul keuse.
Die haarsalon is ‘n nuwe area wat by die Village middag inskakel as ‘n aktiwiteit waar hulle ‘n afspraak kan maak (lewensvaardigheid) en hulself bederf (ontspanning), terwyl dit inpas by self-versorging en die konsep van “Leef Goed, Lyk goed en Voel Goed” wat aangemoedig word by ons sorggroep. Die gerief om dit by Huis Horison te kan doen, beteken dat hulle gereeld kan gaan, sonder die kostes en ander uitdagings van dorp toe gaan.