Huis Horison het ’n ryk geskiedenis.
‘n Toegewyde en passievolle groep mense het die behoefte aan ‘n residensiële werksentrum vir mense met ‘n gestremdheid besef, en ‘n vereniging gestig wat uiteindelik in 1974, 17 jaar later, tot die totstandkoming van Huis Horison sou lei.
Met die verloop van tyd het Huis Horison en sy professionele span sterk dryfkrag uitgeoefen om aanhoudend te verbeter, voor die kurwe te bly, en om hierdie belangrike diens uit te brei. Om pligsgetrou te wees tot kwaliteit dienslewering en om aanhoudend grense te toets was deur die jare ‘n ongeskrewe leuse.
Inwoners wat al van die begin af hier is kan nog getuig van hul eerste ervaringe hier, en ‘n leeftyd sedertdien. Hulle sal jou vertel van herinneringe aan die mense – vriende, familie en kennisse – wat hul omring en hul lewens verryk het.
Die onsigbare vyand, Covid 19, is die wêreld se eerste werklike ramp wat almal se uitkyk verander het. Ons leef tans die storie wat telkemale ‘n treffer film, oftewel blokbom, sou maak. Op die oog af is dit onopmerklik, maar tog is daar ‘n gedwonge verskil in ons optrede en sosiale interaksie met mekaar.
Vir Huis Horison beteken dit meer as ooit dat ons inwoners en dagwerkers gekoester moet word.
Dit maak nie saak wat daar buite gebeur nie, hier fokus ons sonder om af te dwaal op ons kerntaak. Ons strewe daarna om die karakter van ‘n gebalanseerde ouerhuis te skep wat die ervaring van geluk, warmte en sekuriteit insluit. Ons glo dat elke mens ʼn unieke en kosbare skepping met waarde en status is. Dit is waarom elke mens aanspraak kan maak op onvoorwaardelike erkenning en respek, en ook waarom ons sorggroep as die belangrikste mense in die sentrum geag word.
Die grootste prestasies in die wêreld word dikwels nie net uit kennis of vaardigheid bereik nie, maar benodig ‘n onversadigbare passie van die mense daaragter. Ons gee graag erkenning aan diegene wat op die pad bly en nie afdwaal nie maar volhardend en doelgerig ons sorggroep op die hande dra.
Hierdie doelgerigtheid en harde werk, gestook deur enorme passie en liefde, het deur die jare gelei tot vooruitstrewende ontwikkelinge by Huis Horison – die uitbreiding van dienste, bestuurskapasiteit en ons fasiliteite. Ons het inderdaad ons horisonne verbreed.
Daarom is ons trots op die nuwe wooneenheid wat pas voltooi is – nog ‘n hoogtepunt is in ons geskiedenis bereik. Ons heet ons nuwe inwoners, hul ouers en families ‘n hartlike welkom by Huis Horison en vertrou dat ons vir hulle ook ‘n vlam van hoop sal wees in die jare wat voorlê.