Verslag van die Huis Horison Gemeenskap
Die storie van “Emmie & Akram”
Hallo! My naam is Emmie. My naam beteken “’n delikate, sagte persoon” en ek bestaan uit 116 inwoners en 30 dagwerkers. Soos ’n drie-dimensionele legkaart pas ons stukkies inmekaar. Party stukkies van die legkaart is groot ander is klein, party is kort ander is lank, party is 19 jaar oud ander is 75. Emmie se gemiddelde ouderdom is 41.3 jaar. Wat ons almal in gemeen het, is dat ons intellektueel gestremd is en dat ons oorwegend onafhanklik kan funksioneer. Die meeste van ons is op medikasie: 53.3% op psigiatriese medikasie en 44% van ons is op een of ander chroniese medikasie wat dit somtyds moeilik maak om te bestuur en te monitor. Soos jul dus kan sien of hoor, strek hierde spesiale gestremdheid oor ’n breë spektrum en daarom is sommige dae baie uitdagend vir almal van ons hier in die Village.
Weens ons groot ouderdomsverspreiding is ’n gediversifiseerde benadering tot sorg nodig want ons behoeftes verskil. Van ons bly al meer as 40 jaar by Huis Horison en funksioneer gemaklik en tevrede hier in ons middeljare, goed gevestig in ons roetine. Van die Emmies wat 5, 10 of 20 jaar hier bly, of selfs pas ingebou is in my lyf, is nog besig om hulle ritme te kry en hulself ten volle te vestig in ons Village. Party van ons het al ons geliefdes verloor en Huis Horison is ons enigste heenkome en anker in die lewe. Om alleen te wees in die wêreld bring nie alleen finansiële uitdagings na vore nie, maar skep ook ’n leemte van “behoort aan”. Ons almal kry ons liefde, drukkies en ondersteuning van die ander Emmies, die gemeenskap rondom Huis Horison, ander Emmies se ouers en familie en, natuurlik, van Akram . . .
Kan ek jul voorstel aan Akram. Akram beteken “vrygewig, goedhartig, welwillend, mededeelsaam en barmhartig”.