Skip to main content

“Volunteers don’t get paid, not because they’re worthless, but because they’re priceless.”

– Sherry Anderson

Voor die inperking het ons gereelde vrywilligers vanuit die gemeenskap gehad wat onder andere lyndanse, stap, handwerk, kuns, Bybelstudiegroepe en aandgodsdiens aangebied het. Op die oomblik is slegs die Departement Sportwetenskappe by die US, Pets-as-Therapy, die NG Kerk Stellenbosch (Huiskerk) en ’n persoon wat ’n klein groepie inwoners leer kaartjies maak betrokke.

Ons het groot behoefte aan vrywilligers wat op ’n gereelde basis betrokke kan wees om die lewenskwaliteit van ons inwoners te verbeter deur te fokus op intervensies wat “lyk goed, voel goed en leef goed” bevorder. Volhoubaarheid van aktiwiteite is baie belangrik aangesien ons inwoners afhanklik is van struktuur en roetine. Ons nooi graag vrywilligers om in die volgende areas betrokke te raak:

Sport: (informeel) om die inwoners te laat beweeg om hul gesondheid en lewenskwaliteit te verbeter. Klein stapgroepies, speletjies, wandelinge in die natuur, joga, lyndanse, en pretdraf is alles aktiwiteite wat hulle baie geniet.

Kunsklasse: Die terapeutiese waarde van kuns (wat musiek, dans en drama insluit) is onskatbaar. Enige vorm van kunsvlyt wat inwoners se belangstelling prikkel, hulle help om vaardighede aan te leer, of selfs net die week meer interessant maak, sal goed werk.

Musiek, dans en drama: Dit is beslis die gunsteling onder ons inwoners! Hul gryp enige geleentheid aan om te sing, te dans en musiek te maak. Jy hoef nie ’n kunstenaar of musikant te wees om ’n verskil te maak nie.

Snoepie: Om met jou sakgeld self iets te gaan kies en koop, ongeag of jy dit nodig het, is vir ons inwoners baie belangrik en dra by tot hul gevoel van onafhanklikheid. Die snoepwinkel kom al ’n baie lang pad saam met Huis Horison en ons benodig ’n vrywilliger om die snoepie te bedryf, oftewel aankope te doen, dit uit te pak, pryse op te sit en die winkel eenkeer per week te beman).

Inkopies: Dorpsdag was nog altyd die hoogtepunt van die maand. Veral vir ons inwoners wat nie gereeld kan huis toe gaan of pakkies van die huis ontvang nie, sal dit baie beteken as ’n vrywilliger hul een keer per maand kan vergesel dorp toe.

Uitstappies: Die inwoners het te veel geword om uitstappies vir die hele groep te organiseer. Vrywilligers kan egter kleiner groepe of selfs net een of twee inwoners op ’n keer uitneem.

Funksies: Twee dansfunksies word per jaar aangebied. Enige hulp met die voorbereiding, verversings, versiering, mooimaak, aantrek, musiek en nuwe kreatiewe idees of toesig, word altyd benodig. Dit is veral ’n goeie geleentheid vir vrywilligers wat nie deurlopend betrokke kan wees nie. Ander funksies wat ons ook graag meer gereeld wil aanbied, is ’n somerkermis, braai, piekniek, alkoholvrye pub-aand, fliek-en-springmielie-aand en talentkompetisie.

Hare en skoonheid: Elke persoon, ook ons inwoners, wil goed lyk en voel. Om ’n spesiale haar-vel-of-naelsessie te ervaar sal vir hulle ’n hoogtepunt wees.

en_GBEnglish (UK)