Dit is altyd lekker om ‘n geselsie aan te knoop met een van die Rheeder broers, wat graag die stories deel van hul geskiedenis, hul familie en vriende, en die pret avonture uit hul kinderdae.
Johan en Pieter Rheeder is nou 41 jaar oud, en is al 12 jaar deel van die Huis Horison familie. Hulle is baie trots dat hulle oorspronklik van Porterville is en vertel nog graag van die goeie herinneringe van die Swartland dorpie, al woon hul familie deesdae in Wellington, waar hulle graag gaan kuier oor vakansies en naweke.
Toe hulle pa nog geleef het, het hy vir Natuurbewaring gewerk vir 45 jaar, en ‘n terugblik op hul kinderdae in die Groot Winterhoek Natuurreservaat bring goeie herinneringe van swem in rotspoele en voëls kyk. Johan het nog steeds sy pa se ou verkyker waarmee hul bergarende gekyk het, en hy geniet nou nog die visarende en voëllewe te siene by Huis horison se dam.
Wanneer daar bergbrande was, het hul pa hul saamgeneem om helikopters te help volmaak en die brandbestryders water gee, wat baie opwindend was. Hulle was lief vir hul pa en mis hom, maar kan gelukkig nog tyd spandeer saam met hul ma, suster en broer, en kuier selfs soms saam met die familie in Bettiesbaai.
Johan is veral baie sosiaal en hou van ou vriende opsoek. Een van die hoogtepunte was die laaste skool reunie wat hy bygewoon het, want hy hou daarvan om met ou skoolvriende en kennisse kontak te maak, en ook die vriendskappe te behou.
Johan en Pieter is gelukkig om mekaar te hê en is nog goeie vriende, al is hulle in verskillende werkareas: Johan werk in Houtwerk, en is betrokke in die afskuur en restourasie van meubels. Hy help ook baie met die verf van speelgoed. Hy het voorheen saam met Oom Vissie op die tuinbouspan gewerk. Pieter is gelukkig waar hy werk in herwinning.
Alhoewel Johan en Pieter ‘n identiese tweeling is en graag mekaar ondersteun, is hulle twee unieke individue wie se eienskappe afsonderlik erken word. Daarom kan hulle hier by Huis Horison as individue voluit lewe; woon, werk en sosialiseer, elk met sy eie gunsteling tydverdryf en vriendekring, en ook sy eie spesiale vriendin.
Ons uitgangspunt is dat die lewe van elke persoon kosbaar is en verdien al die dinge wat nodig is om ‘n volwaardige lewe te geniet – soos erkenning, menswaardigheid en hoop. Ons kan nie ‘n een-patroon-pas-almal benadering volg nie en daarom is individuele erkenning en ‘n kliëntgesentreerde benadering belangrik.
As ‘n nie-winsgewende maatskappy steun ons op die hulp en bydrae van die gemeenskap en benodig u ondersteuning om vir elke persoon in ons sorggroep ‘n volwaardige lewe te bied. Daar is verskeie maniere waarop u betrokke kan raak:
- Maak ‘n donasie of ‘n maandelikse bydrae,
- Raak betrokke in ons beoogde projekte (sien nuusbrief bylaag) veral ‘n bydrae vir ‘n heining, wat tans die hoogste prioriteit is,
- Maak u hart oop en borg een van ons 20 sorgbehoewende inwoners maandeliks,
- Benoem ons in u testament,
- Vertel ‘n vriend of kollega van Huis Horison ,
- Maak Huis Horison ‘n begunstigde op jou MySchool kaart ,
- Skenk produkte of skenk u tyd of professionele dienste.
Besoek gerus ons webwerf www.huishorison.org.za of kontak ons vir meer inligting.
Die Horison gemeenskap bedank u graag vir u belangstelling in Johan en Pieter en in al ons inwoners en dagwerkers. Ons wens u ‘n gesonde en ‘n geseënde Paastyd toe saam met u geliefdes.
Kliek hier om die April 2021 Nuusbrief te lees.
Vriendelike groete,
Elza C Bresler
Uitvoerende Direkteur