Skip to main content

Geskryf deur: Dr Magdie van Heerden

Alle mense, ook alle persone met ’n intellektuele gestremdheid, het die reg op ’n kwaliteit-lewe.

In ons 2021 Jaarverslag word verwys na ’n ekosistemiese model en die dinamiese interaksie tussen die volgende sisteme: die individu, interpersoonlike verhoudings, die organisasie as sodanig, die gemeenskap, die sosio-politiese en ekonomiese omgewing en ons fisiese omgewing.

Hierdie benadering gaan van die standpunt uit dat verskeie faktore vanuit die omgewing saamwerk, of interafhanklik is van mekaar, om die unieke omstandighede te skep waarin ons ons bevind en ons te vorm tot wie ons is. Om lewenskwaliteit te bevorder moet ons dus doelbewus die onderskeie sisteme in ag neem en betrek. Verandering in een sisteem het altyd ’n rimpeleffek op die ander sisteme.

Tydens ’n onlangse webinar aangebied deur die Idea Research Unit van die Universiteit Kaapstad het professor Ivan Brown van die Universiteit van Toronto gepraat oor persone met intellektuele gestremdheid en hul lewenskwaliteit.

Alle mense, ook alle persone met ’n intellektuele gestremdheid, het die reg op ’n kwaliteit-lewe. Hy verwys na “being, belonging en becoming”.

“Being” sluit in:

·        fisiese gesondheid
·        emosionele gesondheid
·        spirituele gesondheid.

“Belonging” verwys na:

·        waar jy bly/leef
·        die mense in jou lewe
·        die dinge om jou.

“Becoming” sluit in:
·        praktiese aktiwiteite
·        ontspanningsaktiwiteite
·        groeigeleenthede.

’n Ekologies sistemiese benadering pas in by ons strewe na holisme en prof Brown som dit so op:Volgens hom is daar vyf faktore wat alles saambind, naamlik gesondheid, ’n woonplek, familie en vriende, veiligheid en om betekenisvol en produktief te wees.

  • Ons sien die mens in sy geheel raak en erken dat alle aspekte van funksionering aan mekaar verbind is.
  • Ons wil die individu ondersteun en help ontwikkel deur die loop van sy of haar hele lewe.
  • Ons wil geleenthede vir keuses en besluitneming skep binne ’n bepaalde struktuur.
  • Ons wil lewensvaardighede kweek wat die individu binne ’n veilige struktuur in beheer plaas van sy/haar eie lewe (“to take charge”).
  • Ons wil geleenthede tot selfbeskikking/besluitneming skep.
  • Ons wil individuele waardes respekteer.

Volgens prof Brown kan die volgende van personeel (versorgers) verwag word:

  • Kritiese selfevaluering van persoonlike en professionele waardes. Die Visie/Missie en Gedeelde Waardes van Huis Horison omskryf dit.
  • Normalisering: “Providing normal life experiences in normal or common environments.” Dit stem ooreen met Huis Horison se strewe na ’n “village life”, waar geleenthede vir werk, leef, ontspan, verhoudings, spiritualiteit, beweeg en koop doelbewus geskep word.
  • Geleenthede tot eksklusiwiteit en inklusiwiteit bestaan in enige sisteem; personeel moet altyd daarna streef om inklusiwiteit te optimaliseer.
  • Die kwessie van veiligheid is in ’n sisteem soos Huis Horison altyd op die voorgrond. Brown noem dit die “duty of care, risk, and safety” en stel dit dat risiko’s deel is van leer en leef, maar dat dit gepaard moet gaan met “sensible support with boundaries provided as necessary for any particular individual”. Drie belangrike konsepte word hier aangeraak: ondersteuning, stel van grense, en individualisering. Dit is ons plig om veiligheid en risiko’s te bestuur, en daarmee saam die nodige ondersteuningsisteme aan elke individu te bied om binne sekere grense optimaal te funksioneer.

Bogenoemde insigte bied werkbare riglyne om die dinamiese interaksie tussen al hierdie sisteme (individu, interpersoonlike verhoudings, die organisasie, gemeenskap, en sosio-politiese, ekonomiese en fisiese omgewing) op ’n etiese wyse te bestuur.

Brown se term “dignity of disability” vat dit mooi saam, en hy verduidelik dit is “ensuring that people with disabilities are valued persons in all the environments in which the individuals live”.

 

<< Group work as a method of intervention – Reineth Prinsloo 

Fokus op Vrywilligers >>

afAfrikaans