Annette het by ons aangesluit in Julie 2023 nadat ons ‘n behoefte identifiseer het vir ‘n Biokinetikus, met die doel om ons inwoners en dagwerkers se fisiese welstand en algehele lewenskwaliteit te verbeter.
Wat doen ‘n Biokinetikus?
‘n Biokinetikus is ‘n gesondheidswerker wat spesialiseer in en gebruik menslike beweging en oefening as ‘n vorm van rehabilitasie en prestasieverbetering. Hulle assesseer, behandel en lei individue met verskeie mediese toestande en beserings op, met die doel om hul fisiese welstand en algehele lewenskwaliteit te verbeter.
Die primêre fokus van ‘n biokinetikus is die voorkoming en hantering van chroniese siektes en beserings deur oefening en fisieke aktiwiteit intervensies wat aangepas is vir ‘n individu se behoeftes. Hierdie oefenintervensies fokus op die verbetering van mobiliteit, soepelheid, krag, uithouvermoë, propriosepsie, koördinasie en algehele fisiese funksie. Biokinetika is multidissiplinêr en dit is van kardinale belang dat biokinetici met ander gesondheidswerkers saamwerk om omvattende sorg aan pasiënte te verskaf.
Biopsigososiale benaderings is noodsaaklik om die beste holistiese sorg te verseker. Biokinetici is deel van rehabilitasiespanne wat fisioterapeute, arbeidsterapeute en ander spesialiste insluit wat bydra tot oefeningsvoorskrif en bewegingsanalise om geïntegreerde rehabilitasieprogramme te ontwikkel vir pasiënte wat herstel van beserings, operasies of chroniese toestande (neurologies, metabolies, kardiologies, ens.).
Annette se rol by Huis Horison
Inwoners met intellektuele gestremdhede het verskeie mede-morbiditeite, baie van ons inwoners by Huis Horison het traumatiese breinbeserings, is hemiplegies, het serebraal gestremdheid, ly aan epilepsie en Parkinson of maak gebruik van hulpmiddels (rolstoele of looprame) wat alles wys verbetering met gereelde fisiese aktiwiteit. Fisiese aktiwiteit verbeter geestesgesondheid deur angs, depressie en negatiewe bui te verminder en deur selfbeeld en kognitiewe funksie te verbeter. Daar is ook gevind dat gereelde oefening simptome soos lae selfbeeld en sosiale onttrekking verlig wat van kardinale belang is in die groep waarmee ons werk.
Let’s Get Moving!
Die “Let’s Get Moving!” program, gee daaglikse geleentheid vir inwoners om te beweeg. Dit sluit aktiwiteite soos stap, draf, balsporte bv netbal en sokker, swem (in die somer), Spanning verligting oefeninge om angs en trauma aan te spreek, asook pret aktiwiteite soos dans, “Move and Groove”, stap uitstappies (bv staproetes in die omgewing) en besoeke aan AWSS (Animal Welfare Society Stellenbosch) vir die inwoners.
Remember your Brain Breaks
Die “Onthou julle Brein Pouses” aktiwiteit in die werkareas (veral waar daar baie gesit word), moedig hul aan om op te staan en te beweeg en maklike oefeninge te doen op die maat van musiek, wat help om proaktief te beweeg en produktiwiteit te bevorder.
Sy neem twee keer per week inwoners na die Unversiteit se Sportwetenskap waar studente die geleentheid het om met ons inwoners te werk, en daardeur ‘n positiewe impak kan bied op die inwoners se welstand.
Annette is ook betrokke in opleiding vir personeel in werkareas tov mede-morbiditeite wat dikwels by ons inwoners teenwoordig is en daardeur die kwaliteit van kennis en sorg deur die bank te verbeter. Geleenthede word ook aan personeel verskaf om aan TRE® (Tension Release Exercises) -klasse deel te neem om te help om veerkragtigheid te bou en hul outonome senuweestelsels te reguleer ten einde hul in staat te stel om inwoners beter te lei en by te staan en ‘n geleentheid om hul eie spanningsvlakke te bestuur.
Ons almal is dankbaar vir die groot positiewe impak wat Annette by Huis Horison het op ons inwoners, dagwerkers en personeel, veral omdat dit altyd met ‘n groot glimlag gepaard gaan.