Skip to main content

Huldeblyk aan Thulani – Deur Fancois Burrows

Ek weet daar is baie van julle wat Thulani langer as ek geken het. Ek het hom vanaf 2016 geken. So ek praat uit daai ervaring en namens die inwoners wat in Houtwerk werk.

Op mens se lewenspad kom jy  in kontak of ontmoet jy baie persone – hetsy op persoonlike of werksvlak. Ek verstuit my om te sê dat min ‘n blywende indruk laat. As jy terugdink vergeet jy selfs mense se name, wat nog te sê indruk laat.

Daar is egter mense wat deur hul geaardheid en dade groot staan in jou geheue.

Uit my ervaring en ek is seker uit baie van julle se ervaring was Thulani so ‘n mens  – wat n indruk gemaak het.

Hy het indruk gemaak met sy ongelooflike geduld – geduld met inwoners sowel as personeel. ‘n Gemoedelike, vriendelike en opregte persoon wat altyd tyd gehad het vir ander.

Maar meer as net geduld – hy het  deernis vir inwoners gehad. Hy het hulle regtig lief gehad. Dit is n baie uitdagende werk om ‘n instrukteur by Huis Horison te wees en ek het groot respek vir die werk wat hy gedoen het,  sowel as die werk van die ander instrukteurs hier. Om seker te maak almal is by  die werk – die ‘’Waar is Rudi?’’ oomblikke, om uit te vind hoekom ‘n inwoner nie by die werksarea is nie tot konflik hantering.

Thulani het ‘n spesiale band opgebou met al die inwoners. Die atmosfeer in Houtwerk was meestal joviaal. Hy het grappies gemaak met die inwoners en hulle laat gemaklik voel en in die proses hulle vertroue gewen om kennis en vaardighede oor te dra. In die 11 jaar wat hy by Huis Horison was het hy baie waarde tot inwoners se lewens gevoeg. Deur sy persoonlikheid en optrede het hy ook gehelp om die gevoel van ‘’belonging’’ en veiligheid te skep, wat hulle gelukkiger mense gemaak het.

Hy het met sy werk ook indruk gemaak  – ‘n talent gehad om herstelwerk te doen. Baie kere het kliënte ingekom met stukkende meubels – waar ek dink  – nee, kan jou nie help nie, dan sou Thulani vir my sê – “Nee, Francois ons maak hom reg!’’ So as Thulani gesê het ons kan dit nie regmaak nie, dan was daar regtig geen kans om die meubelstuk te herstel nie.

Maar hy was ook bereid om hulp te vra – nie voorgegee hy weet alles nie.

Hy het ook ‘n wonderlike werksetiek gehad – as daar baie werk ingekom het of ons moes produkte klaar kry vir Kermis, sou hy  al soggens voor 08h00 aan die werk wees , behalwe Dinsdagoggende as hy kliniek toe was, of baie middagete breket gaan eet het en dan weer begin gewerk het.

Hy het indruk gemaak met die inisiatief wat hy kon neem, ek kon hom net ‘n foto van ‘n item wys of  Whatsapp en voor ek weer sien dan het hy dit gemaak. En meestal is die items wonderbaarlik uit herwinde hout gemaak – deur rame of venster rame of al die ou hout fascias van die dakke wat afgehaal is.

Ek kon staatmaak op hom om by  spertye te hou. As daar eweskielik n versoek aan Houtwerk was vir geskenkies – kaasborde of houtboksies soos die boksies vir die inwyding van Disa. Telkemale het hy dit betyds met die hulp van die inwoners klaargekry.

Thulani was betroubaar en omtrent altyd teenwoordig. Voor die tyd wat hy nou in die hospitaal was, was het hy omtrent nooit af siek nie. Definietief nooit al 30 siekverlof dae in n siklus ‘’gebruik’’ nie.

Hy was entosiasties in sy omgang met kliente en het trots geneem in die werk wat hy gedoen het. So sou hy baie keer saamstap as hulle meubels kom afhaal en gemoedelike praatjies aanknoop en verneem of hulle tevrede is. Hy was n mens-mens.

Maar geen persoon is volmaak nie, so was Thulani ongelukkig n Bulls ondersteuner. So nodeloos om te sê was Maandae oggende na n Bulls verloorslag oor die naweek uitdagendende tye vir hom. Die inwoners van Houtwerk het hom nooit laat vergeet dat die Bulls verloor het nie. Veral nie as die verloor teen die WP of Stormers was nie. Met die Bulls se rekord die afgelope paar jaar teen die Stormers het ek hom eintlik begin jammer kry en liefs niks oor rugby op ‘n Maandag met hom gepraat nie.

Namens my en die inwoners wat in Houtwerk werk – Thulani ons mis jou.

Ek sal selfs daai Dinsdag oggend Kliniek oproepe van ‘’Francois  – kan Andrew my kom optel?’’ mis.

So Thualni , daar waar jy is, mag jou geliefde Bulls altyd wen.

en_GBEnglish (UK)