Skip to main content

As ‘n nie-winsgewende maatskappy in Suid-Afrika, word dit toenemend krities om onafhanklik van Staatsbefondsing te raak. In Huis Horison se geval moet ons dus mik om 30% (of meer) van ons operasionele begroting self te genereer. Huis Horison is bevoorreg om 14.47 Ha van ons eie gronde tot ons beskikking te hê. Daar is vyf areas wat ‘n Eko Spilpunt vorm met die potensiaal om as ‘n unieke bestemming bemark te word wat ten doel het om langtermyn inkomste te genereer.

Hierdie omvattende projek gee opnuut stukrag aan die Ekoterapie (Nature-Based Therapy) benadering wat Huis Horison sedert 2019 volg. Die positiewe gevolge en uitkomste van dié benadering is reeds duidelik sigbaar onder ons inwoners, dagwerkers en personeel. Ons glo dat die breër publiek; families, bure en vriende ook direk hierby kan baat vind.

Oor die afgelope paar jaar het ons reeds aandag gerig aan die dam area. Die doelwit sluit in die ontwikkeling en verantwoordelike benutting van die natuurlike omgewing van Huis Horison posisioneer ons as gunstige bestemming vir lede van die gemeenskap om te besoek en die dam area saam met ons te geniet, hetsy om te stap, voëls  te kyk, piekniek te hou in ‘n veilige omgewing.

Navorsing deur Harper, Rose & Segal word in ‘n handleiding (Nature-Based Therapy: A practitioner’s  guide to working outdoors, 2019:205) saamgevat: “We have observed that bringing families together to explore the natural world fosters empathy, bonding, regulation, inspiration, peace, self-esteem, acceptance, self-awareness, and growth…a space where we can all be witnessed for our humaneness and our interdependence on the living systems of the Earth” .

Die oorhoofse doel van die ontwikkeling is om unieke areas van belang te ontwikkel en uiteindelik sodanig te verbind dat elk met sy eie aantrekkingskrag benut kan word en die waarde van die Mens-Natuur Verhouding kan ervaar. Die klem lê op positiewe interaksie; vir sowel die mens as die natuur. Ons sorggroep en verantwoordelikheid teenoor hulle, asook die natuur, is ten alle tye ons eerste prioriteit.

Die ontwikkeling rondom die Dam is van besondere belang vir die Eko-Spilpunt inisiatief. Sodanige uitstappies versterk nie alleen die Mens-Natuur Verhouding nie maar dien ook as ideale geleenthede vir Lewensvaardigheidsopleiding. Inwoners help mekaar, leer om te deel, om om te gee vir ander en die omgewing, geduld , verskerping van sosiale vaardighede en regulering van emosies (veral as die groot vis wegkom) om maar enkeles uit te lig.

Die ontwikkelingsplan sluit in die ontbossing van uitheemse plantegroei, bou van ‘n brug oor die dam se uitloop, vestiging van ‘n wandelpad na, en om die dam, die oprigting van ‘n voëlskuiling (‘bird hides’) en die bou van hawehoofde (‘jetties’)  en ‘n Inligtingskantoor.

Ons is dankbaar dat ons nou Fase een van die projek kon van stapel stuur, alhoewel dit maar nog in die begin stadiums van die projek is en dit ‘n wyle sal wees voordat ons toegang kan oopstel vir die publiek.

en_GBEnglish (UK)