Skip to main content

As jy vir Theuns Kotze soek, sal jy hom heel waarskynlik in die houtwerkkamer vind, waar hy besig is om te werk aan ‘n delikate of moeilike rottang meubelstuk.

Hy is baie goed met sy hande en het al van vroeg af riempies- en rottangvleg geleer. Alhoewel hy as ‘n jong man in die tuinspan saam met oom Vissie gewerk het, het hy later van tyd aangesluit by die houtwerkspan, en is steeds werksaam in hierdie werkarea, en uiters gelukkig daar.  Hy is baie hardwerkend en hulpvaardig, en sal steeds doenig bly as daar werk is, al ontspan die res van sy mede houtwerk spanlede.

 

Theuns en sy suster Ansie is oorspronklik uit Vanrhynsdorp, en beide is al meer as 40 jaar by Huis Horison. Theuns was bekend as die sterkste man by Huis Horison. As ‘n jong man het hy dikwels gehelp met die trekker en ploeg, en hy sal jou ook vertel (en ander getuig) hoe hy man-alleen die Toyota bakkie opgetel het sodat sy vriend Joe ‘n klip onder die kar kon uithaal.

Theuns is baie lief vir diere, en sal sonder skroom alles neersit om vir ‘n paar minute die besoekende PAT honde te vertroetel.

Sy werk is die belangrikste deel van sy dag. Hy is baie geduldig en het die vermoë om die moeilikste take aan te pak, en daarmee ‘n plan te maak. Daarom is hy die persoon wat die moeilikste vlegwerk kan uitvoer. Hy is uiters trots daarop en dit gee hom ‘n sin van eiewaarde.

As ‘n persoon is hy opreg, baie regverdig, en ontferm hom oor die jonger ouens saam met wie hy werk.  Hy het simpatie, en staan op teen onregverdigheid. Hy het ook ‘n goeie sin vir humor; hy hou van grappe maak, en is ‘n bok vir sports as hy speels geterg word. Wanneer hy nie werksaam is nie, spandeer hy graag tyd saam met sy meisie Debbie, met wie hy al ‘n lang pad stap.

Theuns is tevrede met baie min, en sal die beste maak uit die bietjie wat hy het. Huis Horison is sy enigste tuiste en hy is baie gelukkig hier. Almal het ‘n sagte plekkie vir Theuns, want hy is ‘n persoon wat met opregtheid en deugsaamheid ‘n positiewe verskil maak in die lewens van mense om hom.

Theuns is maar een van die intellektueel gestremde inwoners, wat in die geborge gemeenskap van Huis Horison, die geleentheid kry om ‘n menswaardige lewe te lei.  Soos Theuns, is daar verskeie ander behoeftige inwoners wat nie die geleentheid het om weg te gaan nie, en die lewe in Huis Horison is die enigste lewe wat hul ken. Jou ondersteuning help Huis Horison om ons inwoners en dagwerkers se bestaan, te normaliseer en verryk. Hulle sal as gevolg van hulle primêre intellektuele gestremdhede nooit onafhanklik in die samelewing kan funksioneer nie…al wil hulle graag! Lewenslange versorging en leiding op alle lewensterreine is nodig, dus word fisiese en emosionele behoeftes, opleiding, bevordering van geestelike groei en ‘n gesonde lewenswyse aangespreek.

Hier in hul woning en beskutte werksarea kan elkeen van hulle tot hul beste vermoëns leef!

Huis Horison is ‘n maatskappy sonder winsbejag en daar is verskeie maniere waarop jy kan help om ‘n verskil te maak:

Die Horison gemeenskap wil jou graag bedank vir jou belangstelling en kosbare betrokkenheid. Ons wens jou en jou geliefdes ‘n vreedsame Paastyd toe.

 

Vriendelike groete,

Elza C Bresler

Uitvoerende Direkteur

en_GBEnglish (UK)