Skip to main content

Aangesien ons inwoners ’n kwesbare groep mense is, was dit in hierdie ongewone en deurmekaar jaar nodig om deurgaans deurdag en met wysheid op te tree.

Tog het baie positiewe dinge uit die moeilike omstandigede te voorskyn gekom.

Ons is baie dankbaar dat niemand by Huis Horison tot dusver positief getoets het vir Covid-19 nie. Dit is te danke aan die ondersteuning en samewerking van die personeel, ouers en families wat sedert 28 Maart voorkomende maatreëls in plek gestel en gehandhaaf het.

Al ons inwoners is deur middel van die lewensvaardighede-program opgelei in die dra van maskers, hou van sosiale afstand en gereelde sanitering of ontsmetting. Hulle weet ook hoe ons behoort te groet (met ’n gebalde vuis en uitgestrekte arm). En verder is daar streng kontrole ten opsigte van die beweging van mense na en van Huis Horison.

Ons het dit interessant gevind dat ons oor die algemeen vanjaar minder gevalle van algemene verkoues en ander siektes waargeneem het.

Die tydperk van isolasie het, soos by ons almal, ook by ons inwoners vrees veroorsaak. Hulle kon die nuus volg op TV, maar nie die implikasies daarvan insien nie (ons ook nie!). Ons was egter verbaas oor hoe goed almal aangepas het. Die terapeutiese span het baie moeite gedoen om seker te maak dat die maskers werk – dat dit gemaklik pas en inval by elkeen se smaak en voorkeure, selfs al het dit beteken hulle moes iewers vandaan ’n Springbok-masker in die hande kry!

Na die eerste terugkeer na vlak vier van inperking moes ons vir ’n tyd lank die sentrum in kleiner groepe indeel en moes inwoners in hul afsonderlike wooneenhede funksioneer. Die terapeute en personeel kon egter opnuut met die inwoners ’n dieper verbintenis bou en meer diepgaande kennis en begrip van elkeen ontwikkel, wat vorentoe waardevol aangewend sal kan word.

Die werkareas is ook in klein groepe onderverdeel. Omdat daar minder mense in die werkareas was, was daar min hande om baie take te verrig. Maar die deursettingsvermoë en samewerking van die inwoners en personeel is weereens bewys en alle take kon betyds afgehandel word.

Ons handwerk-afdeling het byvoorbeeld hul vermoëns gebruik om beskermende klere (PPE) te maak. Met behulp van vrywilligers het hulle ook meer as 700 maskers vervaardig vir gebruik deur inwoners, dagwerkers en personeel. Die feit dat ons die klere en maskers intern kon produseer, het die sentrum groot onkostes gespaar.

Die bakkery het die geleentheid benut om nuwe planne te maak en nuwe produkte te ontwikkel en te toets. Hulle het begin om bestellings via ons webtuiste te neem, en dit kan dan opgetel of afgelewer word.

Ons kon nie vanjaar voortgaan met ons ‘gewone’ fondsinsamelingfunksies nie, en moes nuwe, innoverende maniere uitdink om fondse in te samel. Die Vier-die-Lewe-onthaalboks, ‘n virtuele resies en die opening van Huis Horison se webwinkel het alles ontstaan as gevolg van die grendeltydperk se inperkings.

Al was 2020 ’n moeilike jaar, is ons trots dat ons span vorendag kon kom met innoverende idees, praktiese planne, en deursettingsvermoë – alles met ’n goeie skoot spanwerk – sodat ons ons kerndoelwitte kon bereik en voortgaan om ’n holistiese, kliëntgesentreerde diens te lewer.

afAfrikaans