Skip to main content

Ons kermis is elke jaar ’n unieke ervaring, en vanjaar was in hierdie opsig glad nie anders nie!

Al die reëlings is altyd ‘n uitdaging, maar die moeilikste deel vanjaar was die afwagting … sal ons kermis kan hou...of nie...en hoera! Wat ‘n groot verligting toe kermis kon voortgaan!

Daar was min tyd vir beplanning, maar almal het gewoel en gewerskaf dat die biesies bewe. En eindelik kon die nodige voorbereidings getref word en almal doeltreffend volgens protokol by die hek ontvang word.

Reën? Onmoontlik! Of so het almal gesê – tot die hemel die dag voor die kermis sy krane oopdraai. Dit het nie gereën nie – dit het behoorlik gestort. Gelukkig was die tente reeds opgeslaan en moes die span net rondhardloop om roosters, gazebo’s en aanwysings op hul plekke neer te sit.

Groot was ons verligting toe Saterdagoggend aanbreek en nie ’n druppel reën val nie. Die hele dag was koel en aangenaam en ons kermisgangers droog!

Wat is ’n kermis sonder pannekoek, roosterkoek, trifle en potjiekos? Alles was daar en meer, van afval en wit olifante tot koffie en ontbyt. tesame met ’n uitstalling van veteraan-motors vir almal om te sien en te waardeer.

Ons webwinkel het in Oktober oopgemaak en kermisgangers kon vooraf hulle Kermisbokse en Groentebokse bestel. Hou gerus die winkel op ons webtuiste dop! ’n Mens kan beskuit en ander lekkernye uit die bakkery bestel, asook houtwerk, handwerk, hout en vlamvatters.

Ten spyte van al die uitdagings was die kermis ’n groot sukses en die fondse wat ingesamel is, gee ons ’n welkome hupstoot na ’n vermoeiende jaar.

Ons kermis is elke jaar op die eerste Saterdag in November. Teken solank volgende jaar se datum aan, want op 6 November 2021 maak ons weer so!

Kliek hier om die November 2020 Nuusbrief te lees.

afAfrikaans