Skip to main content

Hoogtepunte  2024: Landskap en Terreindienste  

Die terreinprojekte het oor die laaste paar maande van 2024 ‘n groot verskil gemaak aan die voorkoms van die sentrum. 

Eetsaal
Die kombuis is die hart van die huis, en dit is nie anders by Huis Horison nie. Die sentrale kombuis en eetkamer voorsien in al die voedings- en spysenieringsbehoeftes van die sentrum en dit is waar al die inwoners en dagwerkers hul daaglikse maaltye geniet. 

Na die uitbreiding van Disa het ons residensiele geriewe met 50% vermeerder. Dit het heelwat addisionele druk op die daaglikse etes geplaas, aangesien nie almal op een slag in die eetsaal kon aansit nie. Die behoefte aan ‘n groter eetsaal is dus al ‘n paar jaar op die kaarte.  

Die uitbreiding is pas voltooi en ons sien uit om dit in die nuwe jaar in werking te sit. Ons werk is nog egter nie klaar nie – die volgende stap sal wees om hierdie spasie te omskep na ‘n mooier en aanloklike vertrek, met ‘n verskeidenheid sitplekke, beter/nuwe meubels, en waar elkeen se behoeftes na voorsien kan word, terwyl daar ‘n restaurant gevoel geskep word wat vir hulle ook ‘n menswaardige ervaring bied.  

Parkeerterrein
Met die uitbreiding van personeel en die hoeveelheid motors wat daagliks in en uit, was daar al lankal ‘n behoefte vir beter parkering by die voorste parkeer terrein. Ons kon hierdie jaar ‘n groot verbetering aanbring met aanlê van netjiese plaveisel en die skep van meer parkeerplekke.  

Solar krag uitbreiding 

Danksy ons donateur wat die solar sisteem vir die sentrum geborg het, kon ons hierdie jaar ‘n uitbreiding op die sisteem doen. Waar die eerste fase van die solar sisteem die sentrum kon ondersteun deur krag onderbrekeings asook ‘n besparing op kragverbruik toon, sal die opgradering (installasie van addisionele sonpanele) ons nou in staat stel om die besparing te maksimiseer tot so mate dat ons nog verdere besparings kan kry en ook krag kan begin terugverkoop aan die munisipaliteit.

 

2025 Uitbreidings
Die volgende projekte op die kalender is die vergroting van die Houtwerk area, oprigting van die vrywei hoenderprojek, ontwikkeling van die damwal area en moontlik ook die herstrukturering van die Boekestoor. Baie groot projekte vir ‘n baie klein span. 

afAfrikaans